deur Marius Nel
ALAN LOY McGINNIS
ONTDEK DIE GEHEIM OM MENSE TE MOTIVEER
Bring die beste in ander na vore
CUM
2010
Alan Loy McGinnis is ’n gesinsterapeut, besigheidskonsultant en gewilde motiveringspreker. Hy het baie tyd daaraan spandeer om die effektiefste organisasies en prominentste psigoloë te bestudeer. Uit sy studie identifiseer hy twaalf aspekte wat die geheim van motivering ontsluit, skryf hy.
Die twaalf reëls om ander te motiveer bestaan uit die volgende: Verwag die beste van die mense wat jy lei. Maak ’n deeglike studie van die ander persoon se behoeftes. Stel hoë standaarde vir uitmuntendheid. Skep ’n omgewing waar foute nie die einde van die wêreld beteken nie. As hulle min of meer in dieselfde rigting as jy beweeg, sluit by hulle aan. Gebruik voorbeelde om sukses te inspireer. Gee erkenning en lof aan prestasies. Gebruik ’n kombinasie van positiewe en negatiewe versterking. Gaan versigtig te werk met die drang om mee te ding. Beskou samewerking as belangrik. Skep ruimte vir storms in die groep. En neem stappe om jouself gemotiveerd te hou.
En dan doen hy dit ook. Hy gebruik talle stories van mense se optrede, hulle suksesse en mislukkings om te demonstreer wat hy wil verduidelik.
So haal hy aan uit George Bernard Shaw se toneelstuk, Pygmalion, waar ’n professor ’n eenvoudige meisie met die naam Eliza Doolittle begelei om uiteindelik in ’n elegante dame te verander. Hy doen dit deur haar soos ’n dame te behandel, totdat sy uiteindelik aan verwagtinge voldoen wat aan dames gestel word. Want die Duitse digter Goethe het verduidelik: As jy iemand hanteer op grond van dit wat jy voor jou sien, maak jy hom net nog erger. Maar wanneer jy iemand hanteer asof hy reeds is wat hy moontlik kan word, maak jy van hom wat hy behoort te wees.
Vir wie is dié boek bedoel? Ek wens dat elke ouer dit kan lees – daar is ook ’n verhaaltjie om te demonstreer hoe om van jou kind ’n dief te maak. Ook elke kerkleier en leier in die samelewing, politikus met ’n goeie gewete, CEO of bestuurder by ’n besigheid, onderwyser en dosent gaan baat hierby vind. En alle ander mense ook, want dit is nuttig en noodsaaklik om jouself en jou eie motivering te verstaan sodat jy aan jouself kan werk.
Die boek is gebruikersvriendelik geskryf (en goed vertaal), en ook puik versorg soos ’n mens al van dié uitgewer kan verwag.
Dis goeie waarde vir geld, terwyl maatskappye bereid is om duisende te betaal sodat hulle werknemers na motiveringsprekers kan luister. Hou dié boek byderhand en laat toe dat dit nuwe denkpatrone oor mense en verandering inisieer.
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk