deur Stephan Joubert
Daardie Donderdagnag in Getsemane was bloedsweet-tyd vir Jesus. Daar het Hy vir oulaas voor die keuse gestaan tussen vorentoe of agtertoe. Dit was of kruis toe, of terug na hemelse veiligheid toe. Jesus kon nou vir oulaas van die lewensgevaarlike speelveld af padgee en terugkeer na sy Vader se hemelse woning.
Hier tussen die olyfbome en 'n paar slapende dissipels was Jesus se opsies skielik geweldig beperk. Maar Hy het toe presies die regte keuse in Getsemane gemaak. In hierdie donker oomblikke was God se wil sy enigste roete-aanduider. Dis hoekom Jesus van sy bekendste woorde in sy grootste benoudheid gebid het:
"Vader, laat hierdie bitter beker tog by My verbygaan, maar so nie, laat U wil geskied!" Getsemane het Jesus se koers finaal beseël. Om uit te draai hier kort voor die doodlyn was toe nooit eens 'n opsie nie. Daar was al die tyd slegs
EEN keuse vir Jesus. Hy het goed geweet Hy sou ons almal vir ewig aan ons eie lot oorlaat as Hy nou sou wegswenk van sy roeping.
Die lot van miljoene mense soos jy en ek wat vasgevang is in die donker het Jesus se pad verby Getsemane na Golgota toe geneem. Ons is die rede hoekom Hy die pad dwarsdeur die donker soontoe aangedurf het. Maar dis juis hierdie keuse van die Kind van die Allerhoogste daardie nag in Getsemane wat die deur na God se genade toe voor ons oopgeswaai het. Nou is daar 'n oop deur na die genadetroon van die Allerhoogste toe voor ons almal omdat Christus reg gekies het in Getsemane. Begryp jy dit?
Ek sê dankieDankie Christus dat U Uself opgeoffer het om ons ontwil
Ons kan maar net oor en oor dankie sê
Aan U alleen kom al ons lof toe
Amen
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk