deur Marius Nel
Todd Burpo saam met Lynn Vincent
DIE HEMEL IS WERKLIK
'n Klein seuntjie se verstommende verhaal van sy reis na die hemel en terug
CUM
2011
Dié klein boekie het reeds miljoene mense bereik nadat dit regdeur die wêreld, ook in Suid-Afrika, 'n topverkoper geword het.
Colton Burpo was nog nie vier jaar oud nie toe hy 'n nood-blindedermoperasie moes ondergaan. Sy lewe was in gevaar, en sy ouers was dankbaar dat sy lewe gespaar is. Nadat hy herstel het, vier maande na die operasie, het die seuntjie begin om sy ouers verhale te vertel wat hulle verstom het.
Hy het vertel hoe hy sy liggaam verlaat het tydens die operasie, en wat hy alles in die teater gesien het terwyl dokters aan sy liggaam geopereer het. Hy het in besonderhede vertel wat in die teater en ander dele van die hospitaal was, wat inligting was wat 'n kind van sy ouderdom vir seker nie uit die duim kon suig nie.
Hierna is hy na die hemel en daar het hy mense ontmoet wat hy nie op aarde geken het nie. Hy het besonderhede oor hulle lewe vertel waarvan hy nie bewus kon wees nie omdat dit gebeur het nog voor hy gebore is. Sy beskrywing van wat in die hemel is, het ooreengekom met wat in die Bybel staan.
Hy het ook die engele ontmoet wat in die hospitaal vir hom gesing het, en vir Jesus. Hy het beskryf hoe groot God is en hoeveel Hy ons liefhet.
Wat sy pa gedoen het, is om in dié boek die woorde van sy seun weer te gee. En dit maak die boek so treffend, en geloofwaardig.
So vertel sy pa hom 'n Bybelverhaal wat na 'n troon verwys. Die seun wil weet wat 'n troon is, en wanneer die pa verduidelik, sê klein Colton: O ja, ek het dit baie keer gesin! Dit was groot, Pappa ... baie, baie groot, want God is die grootste een wat daar is. En Hy is baie, baie lief vir ons, Pappa. Pappa sal nie glo-o-o-o-o hoe baie Hy ons liefhet nie! En weet Pappa dat Jesus reg langs Jesus sit? Jesus se stoel is langs sy Pa s'n!
Dan beduie hy dat Jesus aan sy Vader se regterkant gesit het.
En wie sit aan die ander kant van God se troon? Die engel Gabriël, wat baie vriendelik is.
Jy gaan anders oor die ewigheid dink nadat jy dié boek gelees het. En jy gaan die genade kry om soos 'n kind te dink.
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk