deur Milanie Vosloo
“Ek is wat Ek is”, het God vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.” Eksodus 3:14
God kan ons lewens in ’n oogwink verander. Soos Moses s’n. Die een oomblik was hy nog ’n gewone skaapwagter met ’n rustige en kommervrye dagtaak. Die volgende minuut sê God sélf vir hom: “Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.” (3:10) Sjoe, wat ’n groot verantwoordelikheid!
Miskien lê dié jaar se verantwoordelikhede, verpligtinge en uitdagings ook soos ’n groot woestynpad voor jou. Dalk voel jy ook om hakkelend vir God te sê dat jy regtig nie kans sien vir die pad nie en wens dat Hy iemand anders sal stuur om die lewe vir jou makliker te maak. Dit mag selfs wees dat die Here hierdie jaar in besonder ’n groot taak op jou skouers lê. As jy huiwerend voor jou woestynreis staan, weet dan dat God sélf – Ek-wat-is – die pad voor jou uitgaan. Daarom maak dit nie saak hoe moeilik jou lewenspad is nie. Hy is reeds daar.
Sien God se wolk- en vuurkolom in jou lewe. Volg dit en weet: God-wat-God-is, is by jou.
Ek volg U, Leidsman. Onvoorwaardelik.
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk