deur Milanie Vosloo
Waar is jy?
Dit maak nie saak in watter fase van jou lewe jy tans is of wat jou omstandighede is nie ... jy is op reis: Op jou sielreis iewers heen oppad. Want jou geestelike lewe staan nooit stil nie.
Dalk voel jy juis op hierdie oomblik ietwat verdwaal en half verlore op soek na iets wat jy weet beter kan wees as die plek waar jy nou is. Miskien ervaar jy ‘n stukkie ongemaklikheid omdat jy besef dat jy so effens van koers af is. Dit mag wees dat jy jouself sommer in ‘n geestelike doodsvallei bevind waar jy hoop-loos wonder of dinge ooit weer beter sal raak òf ... miskien ervaar jy ‘n heerlike gevoel van geluk en vrede omdat jy weet dat jy elke dag nader aan jou God beweeg en meer en meer in sy heerlikheid leef.
Waar jy nóú is, is belangrik
Hoe en wanneer jy die Here leer ken het, is nie naastenby van so groot belang as die reis wat jy ná jou bekering onderneem nie. Want die kwaliteit van jou geestelike lewe bepaal in ‘n groot mate wat jy dink, hoe jy voel, hoe ander mense jou ervaar en veral ... hoe jy leef.
Net jý kan besluit waarheen
Daar is maar één mens wat verantwoordelik is vir jou geestelike reis: JY! Nie jou huweliksmaat, jou kerk, leraar of enige iemand anders kan jou geestelike reis namens jou onderneem nie. Hulle kan jou as medepelgrims moed inpraat, jou ondersteun en kosbare inligting met jou deel, maar jy en jy alleen loop jou sielspad. En net jy kan jou rigting verander, terugdraai, weer bid dat jy die weg sal vind en met deursettingsvermoё jou reis-na-‘n-beter-môre onderneem. Want om geestelik op koers te wees, in die voetspore van jou Heiland te stap en elke dag te probeer om sterker in jou geloof te wees, is ‘n een-mens-pad waaroor jy elke dag ‘n keuse het.
Twee uiteenlopende rigtings
Elke oggend as jy wakker word, kom jy voor twee soorte aanwysingsbordjies te staan. Die “Lewe-sonder-God”-bordjie is gewoonlik versier met skerp, helder neonligte wat sommer oral ingeplant is. Die “Naby-aan-jou-Vader”-aanwysing is ietwat onopsigtelik, sonder groot vertoon en baie keer onder die stof van ons elke dag se lewe versteek. Boonop fluister hierdie rigtingaanwysers net saggies wanneer jy gekies het om daarna te wíl luister en wanneer jou hart daarvoor gereed is. Die aanwysings van hierdie pad is glashelder duidelik in die Woord en klokhelder hoorbaar in jou hart ... maar jy sal dit net werklik sien en hoor wanneer jy tyd maak om die Skrif te lees en jou hart oopstel vir die werking van die Gees.
Kies die “Naby-aan-jou-Vader-pad”
Om naby aan God te leef, moeite te doen om sy wil te hoor en werklik aan Hom gehoorsaam te leef, is nie altyd maklik nie. Dit verg inspanning, soms teenkanting, ekstra tyd en met tye selfs moeilike besluite. Tog is ‘n lewe waarin ons tree vir tree agter ons Here aanloop, áltyd die moeite werd, áltyd verrykend en op God se tyd ... altyd lonend. Want wanneer jy naby aan jou Vader leef, word jou lewe ánders. Dan word die rugsak van jou hart lig omdat jy dit kan regkry om die swaar klippe van onvergewensgesindheid, wrokkigheid, kommer, moedeloosheid en selfsug uit te pak. En wanneer jy daardie dinge voor jou Vader se voete neergelê het, kry sy Gees kans om jou reissak propvol met sy vrugte te pak: Heerlike goedvoel-vrugte soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. En dan ... ervaar jy werklik innerlike vervulling.
Staan op ... draai terug ... keer op keer op keer
Ons is almal geestelike pelgrims wat ongeag ons beste wil en intensies tog maar met tye val, op ‘n dwaalspoor beland en selfs agteruit beweeg omdat ons ons geestelike lewe afskeep. Moenie jouself verwyt wanneer jy oor ‘n groot klip in jou pad gestruikel het of dalk koersloos is nie. Staan eenvoudig op, sien weer die Lig en hoor hoe Hy vir jou sê:
Welkom terug my kind.
Ek het al die tyd toe jy weg was, vir jou gewag.
Hier is my hand.
Kom ons twee stap die pad weer sáám.
Want Ek is steeds jou Herder;
by My is daar niks wat jou sal ontbreek nie.
Ek sal jou laat rus by groen weivelde,
na water wat verfris, sal Ek jou lei.
Ek gee jou nuwe krag.
Ek lei jou op die pad van geregtigheid
tot eer van my Naam.
Wanneer jy in ‘n donker vallei loop,
sal jy nie bang wees nie,
want Ek is naby jou.
My stok en my staf
beskerm en ondersteun jou ...
My goedheid en trou vergesel jou
al die dae van jou lewe;
en jy sal in my huis bly
so lank as wat jy lewe ...
(Psalm 23:2-4,6 verwerk)
Kom ons bid:
O, Here, U ken die plek waar ek is.
U weet van al my weglooptruuks,
die vergeet-van-U-afdwaalpaadjies,
my parmantige eie-koers-kop
... en die onvervuldheid van my pad.
Vergewe my asseblief my soms
verdwaalde menswees.
Neem my hand en my hart
en lei my dan weer op die pad
agter U aan.
Die pad waarop ek gereeld uit u Woord drink,
voortdurend u Wil soek
en U onverpoos volg.
Ja, Here, lei my geduldig
op die pad van ...
die Léwe!
Mag jy in die komende maand koersvas agter jou Meester aanloop; mag jy daar – naby aan Hom – sielsvrede ervaar en mag jy in die proses die heerlikheid van geestelike groei ervaar ... ongeag jou omstandighede.
Bon voyage ... tot Junie-maand
Milanie Vosloo
Kontak: mv@uppe.co.za
Tags: vrou
Stuur Aan
Facebook
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk