deur Gerhard Bothma
As iemand dit nie genoem het nie, sou dit seker by baie mense verbygegaan het dat die somer verby is en herfs aangebreek het. Aangesien daar geen voorafooreenkoms tussen die natuur en die kalender wat ons gebruik is nie, het min mense waarskynlik die koue aandwind wat in ons omgewing gewaai het met die oorgang tussen die seisoene in verband gebring. Dit as ook die afgelope paar dae só warm by ons dat niemand hier sou sê dat die somer amptelik verby is nie.
Min mense tel die tyd in terme van die vier seisoene wat ons jaarliks kan waarneem. Daar is ook nie baie mense wat die maan se wentelings rondom die aarde gebruik om hulle tyd mee af te meet nie. Alhoewel ons jare aftel in so te sê dieselfde tydperke as wat ons planeet rondom die son beweeg, is daar maar etlike mense wat ons sonnestelsel se ritmes in ons sterrestelsel en -konstellasies gebruik om tyd mee te meet. Ons rig ons tyd baie meer in in terme van dae en ure en, as ons kinders nog op skool is, skoolkwartale. As jy tien mense sou gaan vra hoe tyd oor die eeue heen gemeet en benoem is, sal jy verseker verbaas wees oor die antwoorde wat jy sal kry.
Voordat ekonome die wêreld 'oorgeneem' het en daar van 'werksdae', '-weke' en 'naweke' gepraat is (omdat tyd met die ekonomie en arbeid in verband gebring is), het die geloofsgemeenskap die tyd bepaal en benoem. Mense is geleer dat God bepaalde tye vasgestel het vir bepaalde godsdienstige aktiwiteite (bv Lev 23). Daar is tye vasgestel vir feeste (Lev 23:4), offers (Num 10:10), rus (Lev 16:31; 25:2) gebed (bv Dan 6:11), vastye (Lev 23:32) en so meer. Daar is 'n tyd vir álles (Pred 3). Selfs die maan en die son is híérvoor daargestel, is geglo (Ps 104:19; Gen 1).
Al meet die meeste mense in ons tyd en kultuur hulle tyd in terme van geld ("time is money") en gee hulle rekeninge per halfuur van "hulle tyd", glo die meeste gelowiges tog op 'n manier dat hulle tye in die Here se hande is (Ps 31:16) en dat die Here bý hulle is, "al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Matt 28:20). In Lydenstyd – die seisoen van die kerklike jaar waarin ons tans is – word ons uitgedaag om onder andere na te dink oor die manier waarop ons ons tyd deurbring. In Lydenstyd word ons herinner aan God se medelye met mense en sy betrokkenheid by hulle (bv Eks 3:7). Dis nie net Jesus se eie lyding wat in dié seisoen herroep word nie, maar ook sy raaksien van en betrokkenheid by mense wat swaargekry het of in nood verkeer het (Luk 5:31). In dié tydperk van die christelike kalender word ons daaraan herinner dat ons nie net aan Christus se oorwinning) deel het nie, maar ook aan sy lyding (Fil 3:10).
God is toeganklik, leer ons in Lydenstyd. Hy het medelye met ons swakhede en ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan (Heb 4:15-16). Mag jy beleef dat die Here áltyd by jou is en nie net in jou sonskyndae nie. Mag jy jou tyd nie net in rand en sent meet nie. En mag al jou seisoene tye van vrede wees.
Tags: pitkos
Stuur Aan
Facebook
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk