Deur Stephan Joubert
Die afgelope naweek het my vrou en ek die voorreg gehad om saam met ‘n paar baie vriende iewers in die bos deur te bring. Saam met al die kuiers het ons tussendeur ook lang stukke gesels en nagedink oor God. Dis toe dat Smiley Schoon vertel wat nou die dag by hul maatskappy gebeur het. Een van die dames wat vir hulle werk, het kanker onderlede. Sy het pas slegte nuus gekry dat die kanker versprei het na ander dele van haar liggaam. Toe doen Smiley iets wat hy nog nooit tevore in sy lewe gedoen het nie. Hy en sy vennote kry al die kantoorpersoneel bymekaar en hulle bid net daar vir haar. Eenvoudig, gelowig en opreg het hulle die Here gevra om haar aan te raak en haar te genees.
'n Paar dae later tref goeie nuus hulle kantoor. Toe hierdie dame weer gaan vir behandeling kon die dokters dit nie kleinkry nie. Die kanker was weg. Skoonveld! Smiley vertel vir ons dat hulle almal in die kantoor oorstelp was van vreugde. So iets het nog nooit in sy lewe gebeur nie. Dit het my net opnuut laat besef dat God kan! Hy kan doen wat Hy wil. Hy kan ingryp soos en wanneer Hy wil.
Ek weet geloof is nie ‘n towerstaf nie. Ek weet alle kankerlyers word nie genees as daar vir hulle gebid word nie. Ek weet party mense sterf aan siektes al bid mense hoe hard! Maar ek weet dat God ook die God van indiwidue is. Hy werk met ons elkeen op unieke maniere. En as Hy die dag besluit om op ‘n baie besonderse manier in ons eie lewe in te gryp, dan doen Hy dit. God kan!
Tags: stephanseblog, watookal/whatever
Voeg Kommentaar By
Welkom by
Ekerk
© 2010 Gestig deur Ekerk
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk