Deur Stephan Joubert
“Is daar ‘n doel met alles?” Dit is die soort vrae wat die afgelope tyd bokant die radarskerm begin eggo. Te veel mense loop deur onder misdaad, geweld en wat nog, selfs die bekendes ook. Wat dan gemaak? Is God die Een wat dit moet keer, of wat? Hy is immers mos die Een wat alle mag het en wat omgee vir Sy
kinders? En moet diegene wat die slagoffers van misdaad en wat nog alles is dit juigend aanvaar? Of moet hulle huil en treur? Moet hulle sterk wees en “groot getuienisse” uitbulder oor hoe goed hulle een of ander krisis deurstaan het?
Ek weet nie wat die antwoorde op hierdie vrae is nie. Wat ek wel weet, is dat ekself nie meer kitsantwoorde het nie. Ek identifiseer eerder met Spreuke 25:2 dat God se planne maar ietwat onverstaanbaar is. Of met die aangrypende woorde van Prediker 8:17 dat mens eers God beginverstaan as jy nie die lewe verstaan nie! Eina! Of dalk nie! Dis eintlik baie goeie nuus, want dit sê jy is nie geroep om alles te verstaan nie. Anders gestel, om sin te maak van die lewe is nie gelyk aan die rasionele verstaan van alles of die verklaring van alle swaarkry met rasionele argumente nie. Inteendeel. Die Prediker meen
hierdie lewe is ten diepte onverstaanbaar. Die antwoord is vir hom om jou brood met vreugde te eet en vreugde te skep in dit wat jy elke dag doen (2:24-5). Daar ontdek jy die goeie hand van God op verrassende maniere.
Beteken die Prediker se woorde ons moenie soek na sin en betekenis in ons lewe nie? Nee, dit beteken maar net ons moenie ons koppe moegmaak oor dinge wat te groot is nie. Sin lê in die omhelsing van eenvoud en die skep van vreugde rondom dit wat ons het. Dit is om God hier op ons lewens se voorstoepe te ontdek.
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk