Deur Marius Nel
STEVE FARRAR
’N MAN NA GOD SE BEELD
Manne van geloof word gebeitel, geskaaf, gevorm ...
CUM
2008
Steve Farrar is ’n bekende Amerikaanse prediker wat goeie teologiese opleiding gehad het en ’n bekendheid as skrywer en konferensiespreker verwerf het.
In dié boek gaan dit om mans wat met integriteit leef, mans wat passievol en sterk leef. Dié mans word nie so gebore nie maar deur God se genade en die werking van sy Gees in hulle lewens so gevorm. En eers dan kan hulle ’n impak hê op en ’n bydrae lewer tot die koninkryk, kerk, gemeenskap en hulle gesinne.
Steve Farrar gebruik die Bybelse verhaal van Josef wat van kleinsaf ’n dromer is en as ’n skaapwagter groei tot ’n magtige staatsman en leier van sy volk (en ’n vreemde volk!) Dit gebeur langs die lang pad van swaarkry en selftwyfel en getrou-bly, al kon die vrug van ontrou-word soet wees.
Want God is aan die werk, al sien ons dit nie raak nie en al gebeur dit vreemd en stadig. Selfs wanneer jou drome jou in ’n put of ’n diep gat laat eindig (in Hebreeus word dieselfde woord vir Josef se put en tronk gebruik), is God in beheer. Selfs as die lewe jou verwoestende verliese toedien, mag jy steeds opkyk want Hy hou oor jou die wag. Uiteindelik kan wat heeltemal onmoontlik gelyk het, gebeur indien dit God se doel in jou lewe kan dien. Maar dan slegs as jy getrou agter Hom aanloop.
Sommige mense gaan deur die leerskool van die lewe en leer min tot niks. En ander loop stadig genoeg dat hulle die Here se hand sien in wat gebeur, en leer wat Hy vir hulle wil sê. Die laaste groep se karakter word deur die leerskool, die lewe gevorm. En hulle groei tot mense in wie die beeld van God gesien kan word, manne met karakter en integriteit.
Deel van die leerproses is dat jy raaksien dat God in beheer is van alles, insluitende ernstige terugslae, hoop wat deur gebeure verpletter word, uitgerekte tye waarin niks, maar niks gebeur, magtige mense en die onreg wat hulle soms teen jou pleeg, natuurrampe en bevorderings.
Josef se lewensbeskrywing in die Bybel bied die ryk stof waarteen Steve die lig laat val op die moderne man, en die eise wat die lewe aan hom stel. En uiteindelik gaan jy verstaan: God is met jou op pad en Hy gaan sy doel bereik, Hy gaan alles ten goede laat meewerk, indien jy Hom die kans in jou lewe gun.
Heel gepas begin die boek met ’n voëlvlug oor die lewe van Josef, en sluit met vrae gerig aan die adres van die leser, en wat ook nuttig in kleingroepe gebruik kan word.
’n Boek wat jou uitdaag om te groei, om jou insig in jou frustrasies en probleme te gee en jou toe te rus vir jou reis vorentoe.
Jy moet 'n lid wees van Ekerk om kommentaar te lewer!
Join Ekerk